Immanuel - God by ons?
Vrydag refleksie - 12 Desember
Die voorbladberig oor Karin van Aardt in die Burger verlede Maandag wil my nie los nie. 'n Oud-juffrou, ma en ouma, vlieg saam met haar man van Mbombela se lughawe na Kaapstad lughawe om by haar enigste kleinkind se verjaardag te wees. Hulle stuur 'n boodskap van die lughawe af om te sê hulle het veilig geland (ons doen dit ook altyd) en vertrek nou na Vredenburg toe.
Die GPS neem hulle met die verkeerde pad vanaf die lughawe - deur Langa. By 'n robot word hulle ruit uitgeslaan en sy word verskeie kere met 'n mes gesteek - en sterf. Dit alles net om 'n handsak te steel. 'n Mens se lewe het nie meer baie waarde in ons land nie - nie meer as 'n handsak of beursie of selfoon nie.
Dis moeilik om hierdie dinge te verstaan. Waar was God toe dit gebeur het? Was Immanuel, God by ons (Mat 1:23), dan nie daar nie? Hoe laat Hy sulke wrede dinge toe? Waarom gryp Hy nie op so oomblik in en red 'n weerlose vrou nie? Ons hoor so dikwels in hierdie tyd die mooi boodskap dat Hy Immanuel is - God met ons (Mat 1:23). Maar waar is Hy in so 'n donker oomblik?
Hierdie vraag is seker een van die moeilikste vrae om te antwoord. Eintlik het ons nie regtig 'n antwoord wat al die vrae antwoord nie. Die kerstyd word dikwels gekenmerk deur mooi en maklike antwoorde - dit klink mooi vir die mense met wie dit goed gaan maar bied dikwels min troos vir mense in nood - soos hierdie ma en ouma, of die kinders op straat of mense sonder kos in die kerstyd.
Dalk is die eerlikste antwoord om te sê dat Kersfees en Jesus se geboorte nie die wêreld heel gemaak het nie: dit het nie die seer, armoede, siekte en lyding weggeneem nie. Dit was net die begin. Die kindermoord in Matteus 2 wys maar net hoe stukkend die wêreld steeds was na Jesus se geboorte. Daarom moet Jesus weer terugkom. Eers dan sal alles nuut word. Eers dan sal hartseer, pyn en lyding weg wees. Dan sal "smash and grab" en armoede en lyding verby wees.
Totdat Jesus terugkom leef ons in 'n wrede, genadelose, stukkende wêreld - dis net so stukkend as voor Jesus se geboorte. Maar in hierdie stukkende wêreld kan ek en jy en die kerk klein voorsmakies wees van dit wat eendag vir ons wag. Ons kan mense help, troos, bemoedig, bystaan en sodoende hulle wêreld effens beter en mooier maak - dis wat Jesus vir ons kom wys en leer het. Maar die wêreld gaan stukkend bly tot Jesus terugkom.
Daarom, gaan wees 'n voorsmakie van God se nuwe wêreld. Wanneer ons dit doen, ervaar die wêreld wél iets van Immanuel - God by ons.
Mooi dag!
Comments
Post a Comment