Nuwejaarsdag 2026
Dis Nuwejaarsdag, 1 Januarie 2026. Dit voel soos gister toe ons Alfa 1999 op TV gekyk het en gedink het dit is darem ver in die toekoms in. Nou is dit 27 jaar na Alfa 1999. Ons bly steeds op die aarde en sweef nie iewers in 'n ruimtestasie rond nie.
Dis natuurlik nie vir almal op dieselfde oomblik nuwejaar nie. Australië, Nieu-Seeland en die Ooste is al in die helfde van 1 Januarie; Amerika en Kanada moes nog 'n paar ure wag vir nuwejaar. Die Jode het hulle nuwejaar reeds in September gevier. Maar tegnies is dit vir ons 'n nuwe jaar in ons baan om die son.
Die groot vraag aan die begin van 'n nuwe jaar is: wat gaan hierdie jaar vir ons inhou? Gaan ons gelukkig wees? Gaan ons gesond wees? Gaan ons leef om te vertel? Gaan die oorlog tussen Rusland en Oekraïne hierdie jaar ophou? Wat gaan in ons eie land gebeur?
Ons het nie antwoorde op een van hierdie vrae nie. Ons sal moet wag en sien. Wat ons wél het, is 'n belofte dat die Here by ons sal wees. Ons gaan nie alleen wees nie. Maak nie saak wat gebeur nie, ons sal nie alleen wees nie. Jesus se belofte was: Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding. Die Baba wat gebore is sal ook in hierdie jaar vir ons Immanuel wees. Daarom hoef ons nie nou besorg te wees oor alles nie (Fil 4:6).
Ons gaan die toekoms in met geloof, hoop en verwagting. Ons gaan die toekoms ook biddend in. Ons gee ons drome en vrese vir die Here. Ons maak ons begeertes "met smeking en danksegging" aan God bekend (Fil 4:6).
Ons bid dat die Here ons sal seën en ons beskerm teen alle onheil en teenspoed. Ons glo Hy hoor; ons hou dit vas. En ten spyte van die onsekerheid en vrae sonder antwoorde, het ons 'n vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7).
Geseënde nuwe jaar! Mag die seëngebed van Aaron waar wees/word vir jou en jou huis (Num 6:24-26):
“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Coenie, namens die leraars, personeel en kerkraad.
https://youtu.be/O5t97IvlExI?si=SpOHx3DrfOzeQpxp
Comments
Post a Comment