Wyse manne siek steeds....
Vrydag refleksie - 26 Desember
Die wyse manne is nie regtig deel van die kersverhaal nie. Hulle was nie daar toe Jesus gebore is nie. Hulle het nie die stal en die krip en die baba daarin gesien nie. Hulle was effens laat - dalk selfs twee jaar laat.
By hulle aankoms was Jesus nie meer 'n pasgebore baba nie - Matteus sê Hy was nou 'n "kindjie" (Mat 2:9). Matteus noem ook nie 'n stal of krip nie maar 'n huis - die ster het gaan staan bo die "plek" (Mat 2:9) waar die kindjie was; daarna gaan hulle in "huis" (Mat 2:11) en vind die "kindjie" en sy moeder.
Die verhaal van die wyse manne is 'n post-kersverhaal. Dis bedoel vir die tyd na Kersfees. Dis goed om daaroor na te dink op die dag ná Kersfees en die dae wat kom.
Wat staan uit in hierdie verhaal? Hierdie manne het honderde kilometers ver gereis op soek na Jesus. Hulle soek Hom in die sterre, in die Skrifte, in die paleis en in Bethlehem. Hulle was God-soekers. Hulle sou nie rus voordat hulle Hom vind nie.
Kersfees is verby. Jesus het nie vir altyd 'n baba gebly nie. Hy het grootgeword, geleef, gely, gesterf, opgestaan en opgevaar. Ons mag nooit ophou soek nie. Ons soek Hom in die natuur, in die Skrifte, in die argeologie, in die kunste, in die geskiedenis...orals. Ons soek na Hom in kerkgeboue en hospitaalkamers en op die oop vlaktes. Ons is God-soekers. Wyse manne hou nooit op soek nie.
En in Sy groot genade laat Hy Homself vind. Hy laat Homself vind op die vreemdste plekke. Wanneer jy Hom vind, of eerder, wanneer Hy Homself laat vind, buig jy neer soos die wyse manne van ouds en gee jou alles vir Hom. Dis die uitdaging in die dae en maande na Kersfees. Moet nooit ophou soek nie, en as jy Hom vind, buig en gee jou alles...
Mooi dag!
Comments
Post a Comment