'n Ark en 'n Mercedes
Vrydag refleksie - 2 Januarie
Vir 'n klompie goedgelowige Christene in Ghana was dit nie 'n lekker kersfees nie. Om die waarheid te sê: hulle is teleurgesteld en kwaad. Hulle het kaartjies gekoop om in die ark in te gaan voor die groot vloede wat op 25 Desember sou begin.
Een van die baie profete, wat homself as profeet verklaar het, het aanspraak gemaak daarop dat die Here vir Hom gewys het hier kom 'n tweede (sond)vloed en hy moet 'n ark bou. Hy het klaarblyklik genoeg kaartjies verkoop vir 8 arke. Maar die vloed het nie gekom nie en hy het vir homself 'n duur Mercedes motor gekoop uit die kaartjieverkope van die ark. 'n Mens kan maar net lag...of dalk eerder huil.
Soveel mense is al miskei deur dominees of pastore of profete wat vir hulleself meer gesag toe-eien as wat die Here vir hulle gegee het. Daar is groot rooiligte wat flilkker as mense meer gesag as die Bybel kry - maak nie saak hoe wonderlik hulle is nie. Paulus waarsku ons selfs teen mense wat allerhande visioene gesien het (Kol 2:18).
Vir baie het die bediening 'n winsgewende besigheid geword. Hulle maak geld uit mense se vrese en krisisse. Hulle mislei mense vir geld. Hulle voorspel dinge wat nie van die Here af kom nie; hulle belowe dinge wat die Here nie belowe het nie. Die welvaartskerke in Amerika (en in ons eie land) groei teen 'n ongelooflike tempo omdat mense graag wil hoor dat almal welaf gaan wees; almal sal gesond word en almal sal oorvloedig geseën word.
Dis 'n valse evangelie. Almal word nie gesond nie; almal is nie suksesvol nie; almal word nie ryk nie. Die pad saam met God is nie altyd kort en reguit en maklik nie. Soms is die pad lank en moeilik. Soms is daar teleurstellings en onbeantwoorde gebede. Dis nie iets wat mense wil hoor nie.
Ons moet eerlik oor die Bybel en oor God wees. En gelowiges moenie alles glo wat hulle hoor nie - selfs nie van hul geliefde dominee, pastoor, sanger of profeet nie. En terloops, in die Bybelse verhaal van die sondvloed was daar nie kaartjies te koop nie. Genade word nie gekoop nie.
Mooi dag!
Comments
Post a Comment