Posts

Aan wie se kant?

Image
Ek het al baie kinderdienste oor Dawid en Goliat gehou. Wat my opval, is dat ek nog nie een kind gesien het wat aan Goliat se kant is nie. Om die waarheid te sê, al die grootmense is ook aan Dawid se kant. Hoekom? Miskien sien ons in Goliat iets van die boelies in ons eie lewens. Hy is groter as almal om hom, waarskynlik sterker ook, en hy weet dit. Hy terg en beledig en daag uit. Hy loop oor mense. Ons almal het al paaie gekruis met sulke mense. Hulle loop oor jou omdat hulle groot is of geld het of in ’n magsposisie is. Maar ek dink dis belangrik om te erken dat ons in elke storie aan iemand se kant is. In Dawid se verhaal is ons aan Dawid se kant; wanneer die Farao die Israeliete agternasit, is ons aan die Israeliete se kant. In die Rigterboek is ons aan Gideon se kant teen die Midianiete en later aan Simson se kant teen die Filistyne. Dis normaal om aan iemand se kant te wees – ’n mens kan nie ’n draadsitter wees nie. In die gewone lewe vandag, kies ons ook kante. Klein...

Kyk daai tannie se hare!

In die afgelope week, terwyl Tersia by die kassier in die supermark staan, hoor sy die dogtertjie agter haar in die ry. "Mamma, kyk daai tannie se hare!", sê die dogtertjie vir haar ma en beduie na Tersia. Haar ma help haar saggies reg: "Sjuut, mamma het jou mos geleer mens kan dink wat jy wil maar nie sê wat jy wil nie".  As ons eerlik wil wees, moet ons erken dat ons almal heeltyd waarneem. Ons sien mense met baie hare; ons sien kaalkoppe. Ons sien maer mense en vet mense, kort mense en lang mense. Ons sien mense van verskillende kleur en postuur. Een van ons kinders het kleintyd na 'n Chinese seuntjie in 'n winkel gewys en gevra waarom sy oë so "skrefies" is. Dis normaal om waar te neem en te ontleed. En dis nie verkeerd nie. Elke mens lyk anders.  Die Bybel vertel byvoorbeeld dat Lea sagte oë gehad het; Ragel het 'n mooi lyf gehad, Esau was harig; Dawid was rooi van velkleur, Salomo was mooier as almal en Moses het gehakkel. In een van die ...

The other lady

Image
Die dame by die deur het gesê ek moet in die geel ry gaan sit. Na 80 minute se wag in die geel ry is ek uiteindelik voor. Opgewonde. "No sir, you must see the other lady". Terug in die ry. Uiteindelik kom ek by "the other lady" maar sy sê ek moet vir die dame langsaan wag. Toe die dame langsaan met ete wil gaan stuur sy my terug na "the other lady" - nou is sy eers moeilik!  Na 'n groot gesukkel kry ek uiteindelik my dokumente. Ons almal is al iewers in die verlede soos 'n "nobody" behandel. Dis nie lekker om 'n "nobody" te wees nie. Mense doen dit op verskillende maniere: die manier waarop hulle met jou praat; die manier waarop hulle jou boodskappe antwoord of nie antwoord nie; deur doodgewoon oogkontak te vermy of deur gewoon nie te groet nie. Ek het eenkeer gelees dat baie aanrandings en plaasaanvalle teruggevoer kan word na 'n situasie waar mense se menswaardigheid aangetas is. Hulle is soos 'n "...

Jeugdag 16 Junie

Dis 16 Junie. Ek het jare gelede op hierdie dag die Comrades marathon gehardloop. Dis jeugdag. Maar dis 'n dag wat gelaai is met soveel bagasie uit die verlede. Daar word vandag landwyd feeste gehou en toesprake gemaak. Die verlede word weer en weer in herinnering geroep; dikwels misbruik om die vuur van verdeeldheid aan die gang te hou. Ek dink vandag nie soseer aan die verlede en die stories agter 16 Junie nie. Ek dink baie meer aan ons eie kinders en ons gemeentekinders. Ek dink aan die komplekse tyd waarin ons leef en die uitdagings (en versoekings) waarmee ons kinders elke dag te doen kry. Dis 'n ander wêreld as die wêreld waarin ons opgegroei het.  Die uitdaging vir 'n Christen jongmens is egter steeds dieselfde as vyftig of honderd of drie duisend jaar gelede: hoe sal 'n jongmens Sy lewe skoon hou? (Ps 119:9). Dis die groot vraag. Die antwoord is ook steeds dieselfde: deur die te hou na U Woord (Ps 119:9). Die antwoord het nie verander nie. Ja, dis nie maklik nie...

1 Kor 13 vir pa's

Image
Sondag is vadersdag. Ek deel vandag met julle 1 Kor 13 vir pa's (uit Ministories vir pa's): Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans. Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed. Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank; en besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls; en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie. Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp ...

Bedelaars op straathoeke

Image
Ons het al gewoond geraak daaraan dat daar op elke hoek iemand staan met 'n bordjie in die hand: "Enige donasie welkom" of "werkloos, vrou en twee kinders". Dikwels is die laaste sinnetjie "God bless you" of iets soortgelyk. Ek het al selfs 'n bordjie gesien wat sê: "Te lui om te werk maar te eerlik om te steel". Wat doen 'n mens? Party mense sit in hulle motor en kyk net strak voor hulle uit - probeer om nie oogkontak te maak nie. Ander draai die ruit effens oop en gee 'n toebroodjie of 'n vyf rand. Sommiges probeer argumenteer maar dit help meesal nie baie nie.  Mense vra dikwels vir my: "Dominee, moet ons vir almal iets gee?". Dis nie 'n maklike vraag nie. Wat dit moeiliker maak is dat daar in die groter stede op elke hoek iemand staan. Dis nie net 'n vraag of jy moet help nie, maar of jy op elke hoek moet (of kan?) help. 'n Mens voel eintlik so magteloos omdat die probleem so groot geword ...

Motorhuise en bokse

Image
Elke motorhuis lyk anders. Een van die motorhuise in ons kompleks is altyd klinies netjies: niks wat rondstaan en niks wat hang teen die mure. Ander motorhuise is omskep in 'n woonstel vir eksta slaapplek. Oom Clifford se een motorhuis is 'n "man-cave"; dis sy stilword-plekkie. Toe ons in Potch gebly het, was my motorhuis 'n plek vir alles wat nie 'n plek het nie. Elke ding wat nie iewers in die huis pas nie, word stilletjies in die motorhuis neergesit. So ook word alles wat reggemaak moet word, in die motorhuis neergesit: 'n strykyster wat stukkend is; 'n muurhorlosie wat geval het; 'n braaipan wat nie warm word nie; en baie meer. Gé Korsten het dit mooi opgesom met sy lied: "Pappa maak dit reg". Dan is daar die motorhuise wat vol bokse gepak is (ek kies doelbewus die woord "boks"). Meeste van hierdie bokse gaan nooit uitgepak word nie. Vra my, ons is drie jaar hier en daar is nog heelwat bokse in my motorhuis - ek ...