Dood van 'n kollega (Christa)
Vrydag refleksie - 31 Oktober Ons het hierdie week 'n kollega verloor. Dis nooit lekker nie. Christa het twee jaar gelede pankreaskanker gekry. Maandagoggend vroeg het sy die stryd teen die kanker verloor. My pa is ook jare gelede oorlede aan pankreaskanker. Dis nie 'n vriendelike kanker nie; dis 'n seer en moeilike pad. In my vorige werkkring het ons ook kollegas verloor. Eers is Johannes, ons terreinman oorlede; daarna is Reon, my kollega en mede-leraar oorlede. Nog later is tannie Bessie, ons koster oorlede. 'n Kollega se dood laat 'n groot gat in 'n personeelspan. 'n Mens word lief vir mekaar - dis soos "buddies" in die weermag. 'n Mens gaan deur diep waters saam met mekaar en vir mekaar. Sommige kollegas groei meer op jou as ander. Die dissipels van ouds het ook 'n kollega verloor. Hulle kollega, vriend, leier en mentor is oorlede. Hulle het Hom gesien sterf. Hy was die middelpunt van hulle werkkring en vriendekring. Hulle het hulle le...