Posts

Showing posts from May, 2018

Heiligdom...

Heiligdom... Dit was 'n rowwe dag. Baie afsprake en moeilike uitdagings. Moeilike mense. Die dae is lank en die aande is koud. Ek het nou net by die huis gekom. Ek gooi die kole in die binne-braai in die leefvertrek. Dis Woensdagaand en elke Woensdagaand, na belydenisklas, braai ons 'n worsie. Dis meer as vuur en kos en wyn. Dis 'n ritueel wat homself elke week herhaal. Dis vir my in 'n sekere sin heilige oomblikke. My binnebraai is een van my eie klein heiligdomme. Dis hier waar ek nadink oor alles wat vandag gebeur het. Hier dink en wonder en baklei ek. Dikwels is dit hier waar ek oor God dink en met Hom praat. Jare gelede, na my pa se dood, was my braaiplek ook my huilplek. Dis hier waar ek alleen gesit en huil het oor my pa. Hy het ook graag gebraai; voor my braaier kon ek onthou en verlang en uitsien. In die afgelope jare het hierdie braaiplekkie die hart van ons gesinslewe geword. Ons beste saamtye is dikwels die uur in 'n week wat ons saam braai. Hier gesel...

Job: tweede kans...

Job: tweede kans... Job 42:10 Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. Die verhaal van Job eindig nie by ‘n man wat alles verloor nie. Nadat die Here vir Job herinner aan wie Hy is, gee Hy vir Job twee keer soveel as wat hy gehad het. Hierdie deel van die verhaal is nie sonder vrae nie, maar dis belangrik om raak te sien dat Job aan die einde beter daaraan toe is as aan die begin. Die verhaal kon opgehou het by Job se verliese en sy gesprek met die Here, maar dit doen nie. Job 42 is die hoogtepunt van die verhaal. Job het weer beeste, vee en kamele. Hy het weer sewe seuns en drie dogters (soos aan die begin). Sy dogters was die mooiste vroue in die land. Die Here het hom baie voorspoedig gemaak. Hy het lank gelewe en nog sy agterkleinkinders gesien. Die boek Job sluit af deur te sê dat Job ‘n vol lewe gehad het. Daar is baie mense wat iewers in hulle lewe alles verloor wat hulle ge...

Job: onverstaanbaar...

Job: onverstaanbaar... Job 42:3 Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. Die boek Job vertel die verhaal van ‘n man wat naby die Here geleef het, maar steeds alles verloor het. Vir Job en sy vriende het dit nie sin gemaak nie: hoe kan ‘n mens alles verloor as jy naby die Here leef. Job se vriende het die skuld voor Job se deur kom lê: hy moes iewers iets verkeerd gedoen het waaroor hy nou gestraf word. Job het self ook nie ‘n antwoord gehad nie, behalwe dat hy vasgehou het daaraan dat dit nie gebeur as gevolg van sy sonde nie. Wanneer die Here uiteindelik met Job praat, neem Hy as’t ware vir Job wildtuin toe. Hy wys vir hom al die diere en vra vir Job of Hy weet hoe alles gemaak is. Dis asof die Here vir Job wil sê: as jy nie eers die diereryk vertaan nie, hoe sal jy ooit die dade en optrede van die Here verstaan? As jy die sigbare dinge nie kan verstaan nie, hoe sal jy die onsigbare dinge verstaan? Ein...

Job: maklike antwoorde...

Job: maklike antwoorde... Job   42:7 Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Job se verhaal is nie maklik om te verstaan nie. Daar is ‘n komp moeilike dinge in die boek Job.   Waarom laat die Here die Satan toe om Job so seer te maak? Hoe kan die Here so ‘n gesprek en onderhandeling met die Satan hê? Dis moeilike vrae, en laat christene en teoloë deur die eeue nog kopkrap. Job se vriende het nie geweet wat agter die skerms gebeur nie (ons is gelukkig om dit wel te weet omdat dit vir ons neergeskryf is). Al wat hulle gesien het is dat daar skielik klomp slegte goed met hulle vriend Job gebeur. Binne hulle verwysingsraamwerk kon daar net een oorsaak wees: Job moes iets veskrikliks verkeerd gedoen het. Hulle raad was eenvoudig: bely jou sonde en dan sal die Here ophou om jou te straf.   Dit klink baie mooi, maar dis nie ...

Job: anders...

Job: anders... Job 1:21-22   “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie. Job het gerou soos alle ander mense van sy tyd: plat op die grond met geskeurde klere en geskeerde hare. Daar is egter ‘n verskil: terwyl Job met sy geskeurde klere en geskeerde hare plat op die grond lê, prys hy steeds die Here (vers 21). Hy sondig nie en hy verwyt nie die Here nie (vers 22). Hier lê die groot verskil tussen mense wat die Here nie ken nie en mense wat Hom ken. Die pyn en seer is vir almal dieselfde, maar die Here se kinders reageer anders wanneer die lewe hulle seermaak. Elke mens reageer anders op dit wat met hulle gebeur, veral ten opsigte van verliese. Ongeag ons eie pereoonlikheid en haneringsmeganismes, Job leer vir ons ‘n belangrike les, naamlik om ook teenspoed en verliese   te aanvaar . Paulus sluit baie jare late...

Job: seerkry...

Job: seerkry... Job 1:13-19 Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer. Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.” In een dag het Job letterlik alles verloor: sy beeste, kleinvee, kamele, maar ook al tien sy kinders.  In een dag het Job verander van een van die rykste mense van sy tyd na een van die armste en stukkendste mense van sy tyd. Hy het ontdek dat die lewe ‘n mens soms bitter seer kan maak. Die rykdom wat ek vandag het kan m ô re weg wees: ‘n mens se besittings, jou geseondheid, jou gesin, jou lewe.  Job doen wat mense wat rou in daardie tyd gedoen het: hy skeur sy klere, skeer sy hare af en gaan lê plat op die grond. Hy is stukkend. Die Here se kinders kry nie minder seer as ander mense nie. Wanneer hulle seerkry, ...

Job: biddende pa...

Job: biddende pa... Job 1:4-5 Job se seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit elke keer gedoen. Job se tien kinders het gereeld partytjies gehou in mekaar se huise. Hy het iets reggekry wat elke ouer graag wil regkry – dat ‘n mens se kinders ‘n stewige band moet hê. ‘n Mens kan nie help om te dink aan die Psalmdigter se woorde: Hoe lieflik is dit wanneer broers saam woon. Maar Job het ook geweet dat kinders, veral in sekere fases van hulle lewens, baie onverskillig kan wees. Elke keer wanneer sy kinders ‘n partytjie gehou het, het hy sy kinders beveel om hulleself te reinig. Dan het Job v...

Job: geseënd...

Job: geseënd... GESEEND MET BAIE (Job 1) Job 1:1-3 In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Job het ongeveer 2000 jaar voor Jesus geleef, naastenby in dieselfde tyd waarin Abraham en Sara gelewe het. Die Bybel vertel vir ons dat hy ‘n ryk man was: hy het baie vee, slawe en besittings gehad. Maar meer as dit – hy het ‘n vrou en tien kinders gehad. Die Bybel beskryf hom as ‘n skatryk man. Tussen die mense van sy tyd was hy die belangrikste man. Ons besittings en ons rykdom is ‘n gawe uit die Here se hand. Job se grootste rykdom was egter nie sy besittings nie, maar sy tien kinders – dit kan ons duidelik agterkom wanneer hy later alles verloor – dit word laaste genoem en da...

Hemelvaart...

Hemelvaart... Lank gelede het God twee huise gebou:  ‘n baie groot huis en  ‘n kleiner huis. Die g roter huis het Hy die hemel genoem en die k leiner huis het Hy die aarde genoem. En Hy het miljoene mense gemaak om in die kleiner huis te bly. Op ‘n dag het God besluit om vir ‘n rukkie lank by die mense in die kleiner huis te gaan kuier.  Daar was net een probleem:  Hy was te groot vir die kleiner huis. Toe maak Hy ‘n plan.  Hy besluit dat Hy baie klein gaan word.  So klein soos die kleinste babatjie.  En een nag terwyl al die mense rustig geslaap het, is Hy gebore in ‘n stal in Betlehem. Vir 33 jaar het Hy op die aarde gebly.  Hy het die mense geleer,  Hy het wonderwerke gedoen,  Hy het siek mense gesond gemaak.,  Hy het dooie mense weer laat lewe, m aar meeste van alles: Hy het aan die kruis gesterf vir al die mense se sonde. Uiteindelik het Hy alles klaar gedoen wat Hy wou doen.  En Hy kon nie vir alty...

Bediening...

Bediening... Here, toe ek klein was het ek gewonder hoekom U so baie keer "weggevlug" het vir die mense. Ek lees 'n paar keer dat U oor die meer gevaar het om net 'n bietjie alleen te wees. As klein seuntjie het ek gedink dat dit nie mooi is nie...ek sal dit nooit doen nie. En hier sit ek nou, Here. Dis baie jare later en ek vlug ook nou vir die mense. In my dorp is daar nie regtig 'n groot genoeg meer (soos die meer van Galilea) waar mens kan wegkruip nie. Of 'n berg waar daar nog nie selfoontorings is nie. Selfs die bo-kamer is nie meer alleen nie. En hier sit ek nou en wegkruip en praat met U. Hoe het U dit reggekry om nie kwaad te word vir die mense wat vir U aan die anderkant van die meer ingewag het nie? Het U nie ook soms kwaad en opstandig en moedeloos geword nie? Moes U ook pinkster hou en pannekoek bak en 'n vleisprojek reël? Wou al die mense daardie tyd ook hê dat U hulle een keer elke jaar besoek? Here, ek weet ek kan dit vir U sê want U was ...

Kwaad mense....

Kwaad mense... Sy is lankal in ons gemeente. Ek ken haar baie goed. Sy was eens op 'n tyd vir my 'n mooi mens. In die laaste twee jaar is sy deur groot dieptes en het sy seer gekry. Ek het dikwels met haar gesels maar dit was nie maklike gesprekke nie. Iewers, in die laaste twee jaar het die mooi mens verander in 'n kwaad mens; nie 'n kwaai mens maar 'n kwaad mens. My seun sê altyd: sy word nie kwaad nie - sy IS kwaad. Oral waar sy kom bring sy ongelukkigheid. Sy stamp koppe met almal, groet nie mense van wie sy verskil nie, loop mense met wie sy ongelukkig is storm en vermy nie 'n kop aan kop konfrontasie nie. Sy is 'n kwaad mens. In haar hart glo sy sy is nader aan die Here as enige iemand anders. Sy noem die sondes van die ander hardop; sy skroom nie om die hammer op te tel en die spyker in te slaan nie. Sy is kwaad. Kwaad vir haar x-man, haar kinders, haar mede-leiers by die kerk....en kwaad vir my. Ek raai sy is eintlik ook kwaad vir die lewe en vir G...

Pinkster...

Pinkster... Vandag is pinkstersondag. 'n Bietjie meer as 2000 jaar gelede is die Heilige Gees op hierdie dag uitgestort...eens en vir altyd. God het op 'n ander manier by ons kom bly. Daardie dag het daar groot dinge in Jerusalem gebeur: wind, vuurtonge, skuddings. Dis egter alles net natuurverskynsels en gebeur ook wanneer die Gees nie uitgestort word nie. Die grootste ding wat daardie dag gebeur het is dat God nie BY ons kom bly het soos toe Jesus gebore is nie, maar IN ons kom bly het. Hy het nie weer Sy tent tussen ons tente kom opslaan nie maar in ons eie klein tentjies kom bly. Elke klein tentjie waar mense woon het die potensiaal om God se huis te wees. Tente word tabernakels en huise word tempels. Gewone mense word kinders en gewone gesinne word kerk. Ons ken eintlik nie 'n ander tyd as pinkstertyd nie. Ons was nog nooit sonder God nie en ons was nog nooit alleen in ons huise nie. En tog, vir 'n oomblik mis ek die wind, skuddings en vuurtonge van die eerste ke...

Hoop...of hoop nie?

Hoop...of hoop nie? Sy is 84 jaar oud. Sy sit in die gange van die provinsiale hospitaal en wag vir behandeling. Sy moes vanoggend 6 uur al buite in die koue staan om 'n taxi te haal om hier te kom. Sy het nie eintlik 'n ander keuse nie. Die afgelope weke was sy dikwels by die hospitaal maar daar was nie medisyne om vir die pasiënte te gee nie. Laas week het sy twee maal 'n taxi gehaal om hospitaal toe te kom, maar sy moes met leë hande huistoe gaan omdat daar 'n staking by die hospitaal is. Daarom het sy vanoggend weer gekom. Dis nog vroeg en baie koud buite. Maar sy HOOP dat sy vandag haar medikasie kan kry...sy kan nie regtig sonder dit lewe nie. Die stukkende wêreld om ons is vol mense wat HOOP: hoop om ook eendag 'n huis of eie blyplek te hê; hoop om medikasie te kry; hoop om 'n werk te kry; hoop om meer te wees as net een van die naamlose skare. My wêreld is anders. Ek leef eintlik in 'n baie gemaklike wêreld waar my salaris outomaties aan die einde...

Dood...

Dood... Dis Sondagoggend - die dag waarop Jesus opgestaan het. Sy is net oor die 80 jaar en lê op 'n hospitaalbed in 'n dorp hier naby. Haar hande is gevou oor haar bors. Sy wag dat Hy haar kom haal. Sy het nog altyd naby die Here geleef. Sy was ons gemeente se eie moeder Theresa. Sy het elke maand haar geldjies gestuur vir die sending en vir Bybelverspreiding. Woensdae het sy die vroue Bybelstudie gelei. Donderdae het sy naaldwerkklasse aangebied vir huiswerkers. En Sondae was sy op haar plekkie in die diakenbank. Sy was nog altyd sommer net God se kind. Gewone maar diep gelowige. Nou lê sy en wag dat Hy moet kom. Langs haar bed staan ek en my vrou, en haar dogter. Ons wag saam met haar. Haar hartklop word al hoe stadiger en haar bloeddruk sak stukkie vir stukkie. Sy praat nie meer nie; dis net 'n kwessie van tyd. Mens leer mettertyd om die tekens te lees en sommer net te wag. Dan is al die lesings skielik weg. Sy is weg. Haar lewe op aarde is verby. Sy het gewag en Hy h...

Ander kerk...

Ander kerk... Sy is nou in 'n "ander kerk". Die ou wynsakke het plek gemaak vir nuwe wynsakke. Maar dis nog dieselfde wyn... Sy praat nou baie meer van die Here, gebruik nou nuwe woorde en terme, hou Bybelstudies by die werk (en verplig die personeel om dit by te woon). Sy glo nou net in grootdoop en steek met moeite haar hande in die lug. Sy getuig nou oral hoe goed die Here is en hoe voorspoedig dit met hulle "besigheid" gaan. Dis interessant dat dit altyd deel is van die getuienisse by die ander kerk. Dalk is dit die rede waarom so baie sakemanne daar aanbid? Ek gun elke kerk sy plekkie en elke Christen kan self besluit waar sy aanbid. Maar 'n nuwe wynsak maak nie die ou wyn nuut nie; nog minder word suur wyn weer soet. Vir die mense wat saam met haar werk, het niks verander nie - sy is 'n moeilike mens. En vandat sy nou by die ander kerk is, groet sy my ook met moeite. Ek kan nie help om te dink dat die wynsak nie die wyn verander het nie. Kerke (o...

Vryheidsdag...

Vryheidsdag... Dis 27 April, Vryheidsdag. Ons vier vandag dat ons vry is van apartheid. Dis al 21 jaar - 'n mens sou kon sê dat die nuwe Suid-Afrika vandag mondig geword het. Eintlik het dit drie jaar gelede mondig geword. My een seun is al mondig, en die ander een word binnekort mondig. Hulle is nie heeltemal "groot" nie, maar hulle is beslis nie meer klein nie. Die nuwe Suid-Afrika is ook beslis nie meer "klein" nie. Op 21 moet jy kan pa-staan vir jou optrede, ongeag hoe moeilik jou kinderjare was. Maar ek is nie seker of ons nuwe landjie al optree soos iemand wat mondig is nie. Laas week was die hospitale toe en siek mense moes leë hande huistoe gaan. In die afgelope week is R254 miljoen se skade by 'n tolhek gedoen. Oral sien ons weer die prentjie van motorbande wat brand - 'n simbool van protes en opstand. Die onreg wat eers teen gekleurde mense gepleeg is, word nou teen siekes en armes gepleeg; nou nie meer wit teenoor swart nie maar swart teenoo...